top of page

Ek weet nou, ek het al gout gehad (Jaco Stander)

 

Gout werk so, of jy het dit al gehad of jy het nie. Daar is nie ‘n ding soos ek dink so nie, as jy al gout gehad het weet jy, jy het gout gehad en vrees jy die volgende aanval.

Dit is iets heeltemal erger as enige kindersiekte of ander siekte wat jy al ooit gehad het. Ek vermoed dat dit ‘n siekte is wat uitgedink is vir mans omdat hulle nie kan kraam nie.  Bowenal het ek al begin dink dat SARS iets hiermee te doen het omdat almal wat kla oor die sogenoemde sondebelasting op alkohol, sigarette en alle ander goed wat lekker is val onder die mees algemene slagoffers van hierdie genadelose verskyning.

Verder dink ek dat dit geen toeval is dat gout en outch (uitroep van pyn) drie letters deel nie. Daar is ook ‘n afrikaanse woord vir gout, Jig wat heeltemal onvanpas is en eerder beskrywend is van die badkamer van een of ander derderangse vulstasie langs ‘n openbare pad.

Aanvanklik en wanneer jy gout vir die eerste keer kry is dit gewoonlik in jou toon of enkel en voel dit kompleet of jy jou toon gebreek of enkel geswik het. My bekendstelling aan hierdie onnodige pynlike ervaring het dan ook min of meer op dieselfde manier begin.

Ek staan een oggend na ‘n naweek se gekuier by die viswaters saam met die pelle, die gespuis soos vroulief hul noem, op met ‘n seer toon, ek vermoed ek het in my toestand van oorbediening oor iets geval of hom teen iets geskop sodat hy nou gebreek is. My regter groot toon is gevaarlik dik geswel en verskriklik rooi, later begin ek dink my skoonma se dogter het iets hiermee te doen want as sy te vinnig by die bed verby loop voel ek die polsende pyn raak erger maar selfs sy begin my later jammer kry.

Ek loop met hierdie pyn of gebrek in my toon vir ‘n paar dae voordat ek by die dokter uitkom en ek hom smeek om my te stuur vir x- strale.  Hy besluit hy wil eers self kyk en maak my sit/lê op ‘n bed wat deur een of ander grapjas gebou is, die bed is te kort, te smal, en te hard en die helfte van my hang iewers tussen die vloer en die bed.

Dok begin met sy ondersoek, omtrent die enigste ding in die hele plek wat reg beskryf word want hy begin onder soek, by my voete, terloops, Bekkenbeen het niks met jou mond te doen nie, hy druk hier draai daar en vir een of ander duistere rede luister hy na my hart of longe en moet ek vir hom ‘n watermonster passeer in ‘n glas met dieselfde vorm as die waaruit ek my bier drink by die huis, moet sê, ek het al amper ‘n monster gepasseer toe hy aan my toon gedruk het. Hy roer my monster met ‘n kartonstrokie, wag ‘n oomblik waarin hy na die strokie staar, hmm proteïen telling is te hoog en dit dui op ontsteking, sê hy.  Kyk Dok sê ek, ek is hier vir my toon nie my blaas nie en as my vrou blaasontsteking kry loop sy nie so kruppel nie!  Hy ignoreer my opmerking en vra, het jy al gout gehad?  Dok jong ek weet nie, ek weet van pampoentjies toe ek al groterig was en ek moes stywe onderbroeke dra en wegbly van water af om te keer vir kalbassies en een of ander siekte wat varke ook kry maar gout, nee Dok, ek sal my Ma moet vra.

Nee man, begin hy verduidelik dit is ‘n mediese toestand wat terug dateer sowat 2000 jaar en word ook rykmansiekte genoem en hy lag daaroor, nou kyk, dit is pure nonsens want ryk was ek nog nooit, het miskien al bietjie geruik na so week in die jagveld maar ryk, nie ek nie.  Dok sal jy die toon kan red of moet dit geamputeer word, vra ek half vies.  Iets wat ek so terloops al self oorweeg het en sommer self sou uitvoer ook as ek net geweet het dit sal werk!

Jong sê hy, ons sal jou suur moet afkry, jou uriensuur is te hoog!  Hy moet tog net nie dat my vrou dit hoor nie, sy sê hoeka ek is party dae so suur sou ek aan ‘n suurlemoen byt trek die ‘n gesig, dink ek by myself.  Verduidelik vir my ek moet rooivleis vermy en eerder vleis eet wat begin met v klanke naamlik, vis vark en fff wel, hoender (moet seker voël wees) en vra wat ek drink, het lus gehad om te vra wat hy het maar bedink my betyds en sê toe maar bier waarop hy toe aanbeveel dat ek dit ook maar moet beperk.  

Met ‘n lam boud van ‘n beesspuit wat hy my gegee het en ‘n voorskrif en leesstof oor jig in my hand hink ek daar weg en voordat ek nog by die apteek kom voel ek die ding begin al beter voel.  Die apteker verduidelik dat hy nie van die klein wit pilletjies het nie maar dat hy vir my die groter pienkes sal gee en dat ek hulle moet in die helfte breek en gebruik soos die etiket sê, ek moet die pille ook net gebruik totdat die gout opgeklaar is of my maag begin spoel.  Met ‘n sakkie vol pille en instruksies om dit te gebruik loop ek al makliker daar weg en toe ek buite kom, sien ek die mansapteek is nog oop en koop toe maar vir my ‘n paar Millers net vir ingeval die gespuis kom kyk of ek die siekte sal oorleef en ons deur die dors oorval word.

By die huis aangekom sluk ek toe vir ’n begin een heel pienk pil, die apteker het gesê ek moet begin met twee van die kleintjies wat dan een grote is, sommer so met ‘n Millers.  Het iewers gehoor pille werk vyftien persent vinniger as dit saam met alkohol geneem word. Val toe maar in die Millers in saam met die gespuis wat kom simpatiseer en uitvis oor hierdie siekte, toe dit slaaptyd word vat ek maar nog een heel pienk pil want nou is dit te moeilik om te sien om die pil te breek.

Vroeg more skrik ek wakker en voel dat die swelsel nou begin sak en sluk ek maar nog een pil net om seker te maak hierdie siekte raak nou genees en vat sommer twee Panado’s vir die hoofpyn ook.

Die oggend aan die ontbyttafel drink ek my koffie terwyl my vrou my aangluur sonder om ‘n woord te sê, al die simpatie van die vorige dag nou vergete. Ek besluit om nou maar die laaste maal een pil te drink dan weet ek, ek is genees en doen toe ook so. Die apteker het mos gesê ek moet die goed drink totdat die gout weg is.

Op my pad uit bêre ek al my slagmesse en ander gevaarlike wapens, wat gholfstokke en koekrollers insluit en gaan werk toe amper sonder om te hink.

Tienuur het ek ‘n vergadering met ‘n unie en loop net daarna weg om vir my vrou iets te gaan koop om te sê hoe jammer ek is dat ek en my pelle ons weer so sleg gedra het die vorige aand ek besluit om sommer vir my nuwe bierglase, met ‘n ander vorm, ook te koop.

Ek ry ‘n begrafnisstoet in die middestad raak en word opgehou in die verkeer, my maag begin draai en ek wonder nog wat ek verkeerd geëet het toe die drukking skielik te erg word en ek ‘n wind moet laat gaan. Ek ervaar onmiddellike verligting maar moet al vier vensters oopmaak om van die reuk ontslae te raak, die gomsnuifer-bedelaar staan ook dadelik weg van my bakkie en trek sy gesig op ‘n plooi, ek maak die vensters na ‘n paar tellings weer toe want nou weet ek nie meer of die stank van binne of van buite die voertuig kom nie.

Die stoet kom verby teen ‘n slakkepas en ek voel die drukking begin weer opbou, helaas kom die laaste voertuig verby en trek ek weg met skreeuende bande om by ‘n badkamer uit te kom.

Engen se joggie loop en soek eers na die sleutel en ek hardloop verby na McDonalds, Ronald is besig om die kinders te vermaak en hulle staan in ‘n bondel en spring rondom hom reg voor die kleedkamer se deur. Koue sweet en hoendervel slaan orals op my lyf uit en ek beur deur die massa kinders en los in die proses om by die badkamer te kom weer ‘n wind, met verligting sak ek op die toilet neer en sien dat ek reeds te laat is. My gunsteling blou onderbroek het ‘n natkol maar ek is verlig. My stoelgang is so verdun dat sou ek dit moes gebruik vir ‘n mondspoel, daar niks tussen my tande sou vassit nie.

Ek kyk langs my en sien dat daar niks toiletpapier is nie, staan toe maar my onderbroek en albei sokkies af in die plek daarvan en stap daar uit, verlig! Ronald en die kinders staan in die parkeerterrein by ‘n patrolliemotor en beduie in my rigting. Party ouers storm by my verby met hul kinders aan die hand, vladerend, lyk soos die pretpark se ontruiming tydens ‘n “disaster movie” en een dame gebruik ‘n menu en waai voor haar gesig.

Ek wonder wat ek vir vroulief gaan sê waarom ek sonder my onderbroek by die huis aankom, maar ek bly verlig; my eerste gout-aanval is verby!

 

 

 

 

 

Ek belowe ek sal roei! (Jaco Stander)

 

 

Die stoompot blaas saggies soos “n slang en vul die huis met die reuk van ertjies en eisbein wat trou. Soos ek uitstap op die stoep val die druppels van winter reen op die dak en maak sirkels op die swembad se oppervlak. In die kareeboom sit ‘n tortelduif en koer, kroesnat gereen terwyl ‘n vinknes ronddans in die wind. As die druppels op die swembad val en die blikkrokodil sopnat reën en vanoggend lyk of hy glimlag  verlang ek na my kinderdae.

Kinderdae saam my pa langs Vaaldam, ook terwyl dit reën en druppels op die dam plons, plons val. Die karpe kom op en vat vars asemteue met hul groot lywe net onder die oppervlak. Iewers skree n katrol op ‘n visstok en my pa draf nader en raap die visstok op en slaan die vis vas. My oom beweeg nader en ek en ouboet wikkel ons stuiwer  toe in die reisdekens  op die agtersitplek van pa se Fiat. Ons weet een van ons gaan weer daai lyn met die aas moet inroei tot net duskant doodgaan van die koue en nat. Dis weer ‘n grote en pa sit nuwe aas aan en stap dan bibberend nader en klop aan die Fiat se venster. Ek draai die venster af en hy vra met ‘n bibberende glimlag of ons die karp gesien het? Ja Pa se ons soos in ‘n koor, dis ‘n volskip se boeta. Nou toe kom roei gou vir my daai lyn in, Jaco sal solank koffie maak se pa. Ek is gespaar van die roei maar moet ook opstaan en die wilgerstompies, weggesteek teen die reën, uit die kattebak haal en maak brand vir die koffiewater.

Ouboet sleep die kano vies uit die water en stap dikbek nader, ek hou vir hom die blikbeker met koffie uit wat hy gretig aanvaar. Iewers bo by die opstal bulk ‘n klomp bees angstig seker om gemelk te word en veld toe te gaan. Terwyl hy blaas sluk, blaas sluk drink se ouboet, die volgende een is joune! Die son werk sy strale plek, plek deur die wolke en stoom begin hang bo elke graspol. Van ‘n punt af word die agt visstokke inkatrol en vars aas aangesit. Dis wraggies my beurt en dit voel vir my die oorkanste oewer  is al nader as die een waar ons kamp voordat ek pa se fluit hoor, links skree hy, trek styf, gooi af. Ek roei paar meter regs en doen dieselfde met die ander lyn en aas wat ek tussen my tone vasknyp. Twee, drie vier maal word die riitueel herhaal. Met die laaste terug roei kant toe staan my  pa en oom elk met ‘n visstok in die hand met ‘n vis wat dapper veg aan die anderkant. Ek roei verbete terug om daar te kom voor die visse die oewer bereik en sodoende nog ‘n roei af te weer.

Vinnig maak ek my uit die voete met ‘n rol toiletpapier as verskoning en glip gou tussen die soetdoring bome in om entjie verder op ‘n miershoop te gaan sit en die wereld te bespied, Sku loop ‘n steenbokkie  tussen die bome uit en gaan staan in die son waar ek sy baksteen kleur duidelik in die son kan sien. Gou hang die stoom ook bokant sy lyf soos die son hom ook nou warm bak. Hy staan aan ‘n lang stuk gras en kou en kyk op toe iemand hard in vroee more praat en die dam die klank ver dra. Op die dam probeer ‘n paar bleshoenders hulle met klampende vlerke en voete wat roei uit die voete maak met ‘n amperse opstyg toe ouboet te na, na hul sin verby loop. Hy loop weer langs die dam af, sy tydverdryf as hy moeg gehengel is, gaan seker skelm rook dink ek. In die verte roep ‘n visarend op sy vlug en my oe soek nou in die blou of ek hom iewers kan sien, ‘n spikkel teen die blou lug is al wat ek kan sien en fokus nou weer my oe hier naby waar die steenbok se maat met ‘n lam loop en die lam baldadig rondspring bly oor die nat op die gras. Die trop beeste wat ek vroegoggend al hoor bulk en roep het kom nou af water toe  en draf die laaste stuk om eers versigtig en dan sommer in die dam in te gaan staan water suip.

 

Later hoor ek my pa se fluit en weet dis ons roep, ek gryp die nog ongebruikte rol papier en loer eers tussen die bome deur of daar lyne moet ingeroei word. Ek sien dis veilig en stap nader en ruik nou die wors wat braai op die kole.

As kinders was hierdie vir ons die alledaagse, ons het maklik oor Desember wanneer pa met verlof was twee weke met ‘n tent by vaaldam gaan kamp terwyl pa, dag in en uit visvang . Ek onthou goed hy het altyd gese dat hy visvang, hy hengel nie en ‘n hengelaar volgens hom het dam toe gegaan maar sy stokke het hy op die kar se dak gelos. Hoe lief hy ookal was vir visvang het hy nie sy mond aan vis gesit nie, ek vermoed hy was te lui om die grate uit te haal. As ons soet was deur die jaar kon ons vir ‘n week gaan kamp en as ons stout was die jaar was dit  twee weke, ons het nooit eintlik vir korter as twee weke gaan kamp nie. My pa het altyd Oom Graaf se bakkie geleen vir die okasie ‘n Ford F100 en sy sitplek was so breed dat ons almal voorin kon saamry. Snaaks dat as ek nou daaraan dink het ek nie ‘n idée hoe hulle met die kos en vleis gemaak het vir die kuier langs die dam nie. Ma het haar altyd besig gehou met lees, kosmaak of koffie drink en ons seuns het op binnebande in die vlakwater gespeel of vislyn probeer ontkoek, sinkers opgetel en probeer visvang. Met al die son modder en modderige water is ons na week een so pikswart verbrand en skurf dat ons lyk soos die indier kindertjies by die huis in Durban waar ons al gaan vakansie hou het. Die eerste bad terug by die huis gee dan ook ‘n gehuil en gesoebat af oor die water daai bruin lyfies brand oor die skurfgeid om nie eers te praat van die Campher room wat agterna ingevryf moet word nie.

Soos gister onthou ek die reuke wat aan sulke dam kuiers gekleef het, kerrie en uie met ‘n bietjie vanilje gemeng met bruinbrood, die suur reuk van sorghumbier en opgekookte mielies wat in die kano uitgeloop het en selfs die oggend koffie se reuk bly jou by soos die reuk van babapoeier en borstol. Ablussie geriewe was daar nie en draailoop was letterlik draailoop bosse in en na die twee weke sou jy die klomp wit blomme sien waar toiletpapier op sponsdorings merke los van elke dag se wegstap en terugkom. Ja en selfs dit het bekende reuke gelos.

Vandag sukkel ons om te kamp sonder lopende water, elektrisiteit en ander geriewe en is die veiligheid langs die dam en selfs binne in karavaanparke nie meer so vanselfsprekend  nie, Ai om nie eers te praat van die selfoontjies waaraan ons tog so verknog is nie. Selfies en fotos van alles wat ons doen en sien word met selfone geneem en op wereld wye web  die kuber ruimte ingestuur met byskrifte soos “wish you were here”, Ons is so besig op selfone om alles te deel met almal wat ons ken dat ons vergeet om die tye saam met die mense wat saam met ons daar en dan is te deel. Ons wens vir tye saam en as ons dit het wil ons dit deel met die wat nie daar is nie en voel die wat daar is soms “I wish I were not here”

Wel kamp saam Pa by die  dam het gekom en gegaan en so ook  is hy vandag nie meer met ons nie,  hy vang  sekerlik nou in die Grootdam vis maar sal ek wat wou gee om nog net so een kamp saam met hom te kon doen. Een kamp, sonder ‘n selfoon en sonder om te wonder wat maak Piet, Koos, Klaas of Sannie waar hul nou is. Ek belowe ek sal roei, sonder om te kla!

bottom of page